Strand Roomyswinkel

Roomys by die see!

Eendag het Freya, die Sjokolade Haasmeisie, saam met haar vriende en familie na die Seebries Kaap gegaan. Die kinders was baie opgewonde. Sabrina, die Gestreepte Katmeisie het vir hulle ’n brief gestuur om te sê,
“Iets wonderlik het gebeur! Kom en kom kyk!”
“Ek wonder wat dit kan wees?”
vra die kinders vir mekaar terwyl hulle na die Seebries Kaap in hulle motor ry.

Toe hulle by die strand kom, sien die kinders ’n verrassing deur die venster van die motor.
“Wat is dit? Vra Freya.
“Dit lyk na ’n groot roomys”,
sê Bonnie, die Persiese Katbaba. ’n Yslike groot roomys staan by die see. DIe kinders hardloop daarnatoe om daarna te kyk en sien toe dat dit die naambord vir ’n nuwe roomyswinkel is! Amelia, die Gestreepte Katmoeder groet die kinders verbaasde kinders met ’n glimlag.
“Welkom by die Strand Roomyswinkel!” sê sy.
“Ek het dit in die geheim beplan sodat ek julle kon verras. Julle is ons eerste kliënte!”

By die toonbank was daar bakke met roomys in alle verskillende kleure.
“Sjoe, dit lyk so mooi!”
roep Freya uit.
“Watter soort roomys is dit hierdie?”
vra Ralph, die Okkerneut Eekhoringseun.
“Dit is grenadilla-roomys”,
antwoord Amelia.
“Die bloubessieroomys is ook lekker”,
voeg Sabrina by, terwyl sy besig is om te help.

Die roomys was koel en heerlik - net reg vir ’n warm dag. Die kinders was in hulle noppies.
“Ek het nog nooit hierdie soort roomys probeer nie”, sê Freya.
“Dit is heerlik!”
DIe babas was ook gelukkig terwyl hulle sit op stoele wat soos vrugte lyk en ’n bank wat beweeg soos ’n wipplank, terwyl hulle hul gunsteling soorte roomys eet.

Maar Crème, die Sjokolade Haasbaba, het nie ’n roomys bestel nie. Toe Amelia vra wat sy wil hê, wys sy na die groot roomysvormige naambord buite en sê:
“Ek wil daardie groot roomys hê!”

Crème het gedink dat die roomyse by die winkel regtig so groot as die naambord gaan wees. Sy het uitgesien daarna om so ’n groot roomys te eet, en was teleurgesteld om uit te vind dat dit nie waar is nie.
“Ons het nie ’n roomys wat so groot is nie, maar wat van hierdie een?”
stel Amelia voor, terwyl sy vir Crème ’n spesiale roomys gee met vyf skeppies.

Toe wys Amelia na die naambord en sê:
“Wil jy dalk binne-in die roomys inklim?”
Amelia het Crème na binne gelei. Daar was ’n terras met ’n bankie waarvandaan jy kon uitkyk oor die strand.
“Ek is binne-in die groot roomys! ”roep Crème.

Crème se roomys het selfs beter geproe terwyl sy oor die groot blou see uitkyk en die lieflike seebries om haar voel waai. Die ander babas klim ook agter haar op.
“Ek kan my oupa se boot sien!”
roep Ambrose, die Okkerneut Eekhoringbaba. Freya en die ander kinders waai vir die babas van onder die terras.  

Almal was gelukkig terwyl hulle oor die glinsterende see uitkyk. Nou dat daar nog ’n plek was om te geniet, sien die kinders nog meer daarna uit om weer by die Seebries Kaap te kom kuier.



DIE EINDE

KENNISGEWING


Foto's is spesiaal gestileer om die karakters in die stories uit te beeld.

Sommige bybehore is rekwisiete wat spesiaal vir die foto's gemaak is en is nie te kope nie.

Die figure is waarskynlik nie in staat om die bybehore te houvas soos in die foto's vertoon word nie.